Bloeisel Projek

Ons reis

2020 was verseker ‘n jaar wat ons nie sien kom het nie. Soos gewoonlik en met egte Suid Afrikaanse optimisme het ons die jaar afgeskop met groot afwagting en fokus, gretig om te bou op 2019 se goeie groei in verkope en dankbaar vir die eerste toename in die grootte van ons druiwe-oes (steeds net ‘n skamele 45% van ‘n normale oes) sedert die begin van die voortslepende droogte. Ons was ook gewapen met ‘n splinternuwe wynmaker en bistrobestuurder met nuwe insigte en baie doelgerigtheid, energie en kreatiwiteit. Natuurlik kon niemand voorspel het hoe hierdie jaar sou uitdraai nie. Terwyl die situasie tans meer positief lyk as ‘n paar maande gelede, het hierdie jaar ongetwyfeld sy merk gelos. Die onsekerheid was by tye oorweldigend. Almal was en word steeds gekonfronteer met unieke en persoonlike uitdagings en ons sal heel moontlik eers die nagevolge van hierdie pandemie en grendeltydperk sien en voel in die maande en jaar wat kom.

‘n Amerikaans-Switserse psigiater het in die laat sestiger jare vir die eerste keer die vyf verskillende fases van hartseer of rou geïdentifiseer. Dit was rondom die laaste fase van aanvaarding waar die sterk wil om te veg ingeskop het. Dit was sink of swem – finansieel en emosioneel, as ‘n besigheid, as ‘n span en as individue. Ons hele bistro, wynproelokaal, en plaaslike wynverkope was gesluit met geen lig aan die einde van die tonnel nie.

Ons doelwit

Die feit dat De Krans Wyne ‘n klein besigheid is, het tot gevolg gehad dat ons almal deur die jare een groot familie geword het. Ons het 29 permanente werknemers en terwyl ons eerste prioriteit was en steeds is dat almal veilig en gesond bly, het ons ook ‘n groot gevoel van verantwoordelikheid ervaar om die De Krans-familie bymekaar te hou en so ver moontlik te voorkom dat enige iemand hulle werk verloor. Ons sekondêre doelwit was om ons wynproelokaal en bistro-personeel op ‘n produktiewe manier in te span. ‘n Diep skoonmaak, ‘n bietjie verfwerk en instandhoudingswerk soos die vernis van bistro tafels was net genoeg om ‘n paar weke besig te bly.  Ons is steeds nie seker hoe ons projek regtig begin het nie, maar dit was ‘n gevolg van koppe bymekaarsit en raaksien wat ons om ons gehad het.

Ons projek

Met die vanselfsprekende verpligting om as ‘n besigheid  ons uitgawes so ver moontlik te sny, was ons beperk tot dit wat ons tot ons beskikking gehad het. Items soos ou houtvate, kurke, leë wynbottels en natuurlik wingerdlote was volop. Kreatiwiteit en ‘n gevoel van dringendheid het uiteindelik gelei tot ons kreatiewe projek. Die gebruik van hierdie herwinbare items was so gepas in hierdie moeilike tyd – die belangrikheid daarvan om die hand te speel wat jy gedeel is, en om inspirasie en deursettingsvermoë te ontdek om iets mooi en iets bruikbaars te maak.

Die bistro en die wynproelokaal-personeel het saamgespan om die mooiste produkte te maak. Natuurlik, soos met enige kreatiewe proses was daar mislukkings, verskille, weer en weer probeer, uithouvermoë, determinasie, en ‘n gemeenskaplike doel – om produktief te werk, om besig te bly, ons werke te behou, en om op te bou, in ‘n tyd waar dit gevoel het asof alles om ons ineenstort.

Die mooi van hierdie projek lê nie net in die versigtig handgemaakte produkte of die kreatiewe proses agter dit nie, maar in die vaardighede wat aangeleer is, die foute wat gemaak is, die ontdekking van verskuilde talente en die bemagtiging van ‘n hele span. Hierdie handgemaakte produkte is gemaak deur iemand wat gewoonlik wyn verpak, iemand wat die heerlike sous maak vir die lamskenkel, en ons veteraan proelokaal-bestuurder – nie deur vakmanne of professionele persone nie. In hierdie jaar van totale onsekerheid en besondere uitdagings, het ons ervaar dat daar skoonheid is in die poging en genade in imperfeksie.

Ons het in hierdie selfde tyd besluit op ‘n naam vir die projek toe ons besef het dat daar hierdie jaar geen Bloeiselfees sou wees nie. Soos meeste ander feeste en belanglike byeenkomste hierdie jaar, was kansellasie onvermydelik. Alhoewel die grendeltydperk ons lewenstempo aansienlik stadiger gemaak het, het die tempo van werk op die plaas nie afgeneem nie. Ons wingerde en vrugtebome het onbewus gebly van die huidige realiteit en die snoei van wingerde vir die 2021 oes en alle ander werk het voortgegaan soos gewoonlik. Selfs die appelkoosbloeisels was nog mooier as ooit. Dit is miskien hier waar ons die grootste les kan leer – dat, soos die verskillende seisoene, die lewe inderdaad aangaan en dat dit ons plig en voorreg is om aan te pas, te groei en vorentoe te kyk met afwagting en hoop. Gevolglik het die De Krans Bloeisel-projek ontstaan. Want die lewe gaan aan, die lewe is mooi, blom waar jy geplant is.

Ons pad vorentoe

Ons hoop is om wat begin het as ‘n reddingsprojek (in terme van perspektief meer as realiteit) uiteindelik sal ontwikkel in ‘n deurlopende wintersprojek tydens die maande wanneer dit ormaalweg stil is by die bistro en die wynproelokaal. Met oneindige moontlikhede, is ons so opgewonde om te sien waar ons kan gaan met hierdie projek. Ons is ook opgewonde om ‘n positiewe bydrae te maak om besoedeling te bekamp ,deur aan te hou om hoofsaaklik herwinbare materiale te gebruik vir ons projek. Neem ook asseblief in ag dat ons produkte huidiglik slegs op die plaas te koop is (nog nie aanlyn nie) en dat die produkte onderhewig is aan beskikbaarheid.

Hierdie is ‘n nuwe terrein vir ons – ons vra vir julle geduld asseblief. As ons in ag neem dat hierdie pandemie ons ook getref het in ‘n tyd waar ons steeds sukkel om te herstel van die deurlopende droogte in die Klein Karoo-streek, moes ons diep asemhaal en vertrou vir ‘n pad vorentoe. Met die afwesigheid van internasionale toeriste, het ons nederig afhanklik geword van ons plaaslike besoekers om ons deur hierdie moeilike tyd te kry. Ons wil opreg dankie sê vir elkeen se deurlopende, volgehoue en lojale ondersteuning.

Ons is ook veral dankbaar vir die uiters positiewe reaksie wat gevolg het op ons sosiale media-plasing, ter ondersteuning van die #jobssavelives veldtog. Dit was hartverblydend om so baie mense te sien wat hulle ondersteuning aanbied en wou uitvind hoe hulle ons kon help. Ons is werklik dankbaar vir elke woord van bemoediging, besoek aan die plaas, wynaankope en ondersteuning op sosiale media.

Ons span

Ons is uiters dankbaar om te kan sê dat sedert die begin van die grendeltydperk in Maart ons daarin geslaag het om al 29 permanente poste te behou, mense wat ook finansieel verantwoordelik is vir 120 familie lede. Ons besef dat dit nie vir elke besigheid wat hierdie bedoeling gehad het , moontlik was om al hul personeel te behou nie, en ons is so dankbaar dat ons in hierdie doelwit kon slaag.

Alhoewel ons hele span idees voorgestel het, opinies gelewer het en kritiek gegee het, was die Bloeisel-projek hoofsaaklik gedryf deur Deon van der Bank (bistro sjef) en Heletje Viljoen (proelokaalbestuurder), met die volgende personeellede wat almal tot die projek bygedra het:

Dorothea Conradie

Bettie Wagener (Dolla)

Chris Nel

Enigma Jansen

Monica Lamberts

Andruschka Hartnick

Michelle Fortuin

Jan Lot

Abé Matthews

Ons kan nie wag om die bloeisel-projek se produkte met julle te deel nie en om julle terug te verwelkom op die plaas. Tot dan – bly veilig en staan sterk. Ons sien julle weer binnekort op Calitzdorp.