• No products in the cart.
  • No products in the cart.

De Krans Premium P&T ™ (Portstyl-wyn en Tonikum skemerkelkie)

HomeWineDe Krans Premium P&T ™ (Portstyl-wyn en Tonikum skemerkelkie)

De Krans Premium P&T ™ (Portstyl-wyn en Tonikum skemerkelkie)

– ’n Verhaal van liefde en innovasie

Portstyl-wyn is deel van De Krans se erfenis. In ag genome die streek se klimaat en grondtipe was dit eintlik onvermydelik dat hierdie bekroonde wynmakery sou beweeg na Portugese kultivars. Dit is hoe De Krans gekom het tot waar hy vandag is, een van die mees bekroonde en gerespekteerde produsente van portstyl-wyne en droë wyne van Portugese kultivars in Suid-Afrika. Maar bowenal is De Krans se mense lief vir portstyl-wyne. Hulle is passievol daaroor, en soos alles in die lewe waaroor mens passievol is, wil mens daardie passie, daardie liefde deel. Jy wil hê ander moet dit ervaar en ook lief raak daarvoor. En so is De Krans se P&T (Portstyl-wyn en Tonikum skemerkelkie) gebore – ’n liefdesverhaal en ’n passie wat so sterk is dat dit gedeel moes word. Dis soos die aangee van die fakkel van oud na jonk, sodat ook hulle portstyl-wyne kan liefkry en waardeer. Portstyl-wyne is egter nie net deel van De Krans se erfenis nie, dis ook deel van die toekoms. Dis miskien nie die toekoms wat noodwendig in die vooruitsig gestel is nie, maar soms moet mens oop wees vir verandering en miskien aangenaam verras word, en selfs meer passievol raak as vantevore.

Die mark vir portstyl-wyne het die afgelope dekade effe gestagneer en daar was beperkte groei as gevolg van die hoër alkohol- en suikerinhoud in vergelyking met natuurlike wyne, asook verouderde benaderings wat betref die teikenmark en geleenthede om dit te geniet. Uitdagings soos ’n jonger geslag wat wegskram van portstyl-wyn as gevolg van die persepsie dat dit meestal net deur ouer verbruikers geniet word en dat dit tradisioneel geassosieer word met ‘n drankie wat na aandete gedrink word, het eindelik die dryfveer geword vir die ontwikkeling van hierdie P&T.

De Krans in Calitzdorp was nog altyd aan die voorpunt van innovasie in die Suid-Afrikaanse wynbedryf. Dit was die eerste produsent wat ’n pienk portstyl-wyn, die Oorspronklike Kaapse Pienk (Original Cape Pink), in 2008 bekend gestel het, asook die eerste om ’n natuurlike soet perlé Moscato in 2012 die lig te laat sien. Nou, na meer as ’n jaar se beplanning, is De Krans se portstyl-wyn en tonikum skemerdrankie (bekend as die De Krans P&T ) gebore. Soos die meeste verbruikers reeds weet, mag Suid-Afrika nie die woord “Port” op sy etikette gebruik nie, maar De Krans is oortuig dat almal gou sal verstaan waaroor P&T gaan en dit sal omhels en geniet.

Hoekom ’n P&T? Dit is geskep om te help om portstyl-wyne meer verstaanbaar en verbruikersvriendelik te maak, veral aan die jonger generasie wat skemerkelkies en gereed-om-te-drink drankies (die sogenaamde RTDs) geniet. Hierdie jong verbruikers sal ongetwyfeld die geleentheid verwelkom om hierdie opwindende, nuwe manier van portstyl-wyn te ervaar, en dit sal help om portstyl-wyne vir ’n veel breër mark toeganklik te maak. Watter beter manier is daar om die oue en die nuwe te kombineer as De Krans se P&T, berei van Cape White (’n wit portstyl-wyn) gemaak van 56 jaar-oue Malvasia Rei wingerdstokke). 

De Krans het ook besef verbruikers soek ’n heerlike portstyl-wyn skemerkelkie, maar hulle wil dit nie noodwendig self maak nie. En dis waar die aantreklike en gerieflike glasbottel van 275 ml van De Krans se P&T inpas – dis reg om te drink en geniet! Dit word aanbeveel dat hierdie RTD yskoud bedien word, net soos hy is, of versier jou glas na goeddinke.

Maar wat maak hierdie P&T so spesiaal? De Krans se Premium P&T is die enigste reg-om-te-drink portstyl-wyn en tonikum in Suid-Afrika. Dit is ’n vonkelende, natuurlike-soet, vooraf-gemengde produk met ’n alkohol-inhoud van slegs 6%. Dit spog met vars geure van grenadella, pynappel, perske en sitrus met die ikoniese en bekende bitterheid van die tonikumgeur op die nasmaak. Al die geure is natuurlik en geen kunsmatige geure word gebruik nie. Met ‘n goeie suur en gebalanseerde suiker-inhoud, afkomstig van die Cape White, is De Krans se P&T ’n heerlike, opwindende nuwe produk om die lewe se vele seëninge te vier, maak nie saak hoe groot of klein nie. 

De Krans se Premium P&T kom in ’n kleurlose glasbottel met ’n silwer krimpdoppie. Dit is beskikbaar in vierbottel-verpakkings, asook groter verpakkings van 24 bottels (6 x 4 bottels) by uitgesoekte kleinhandelaars landwyd, direk op die plaas, asook aanlyn. De Krans se Premium P&T se verpakking is plastiekvry en heeltemal herwinbaar en kos sowat R35 per bottel.

previousnext